6 Redes om Graaff-Reinet te Besoek
As jy ’n sentrale en bekostigbare wegbreekplek soek vir jou en jou familie, moet jy Graaff-Reinet sommer nou op jou padkaart omkring. Hier is ses redes hoekom jy jou vakansie Graaff-Reinet toe moet skuif, indien jy dit nie reeds doen nie.
Besoek die Graaff-Reinet-museum
Die Graaff-Reinet-museum spog met ou geboue soos die Ou Biblioteek, die Militêre Geskiedenis-museum en die Urquhart-huis. Jy kan ook die bekende wingerdstok by die Reinet-huis gewaar, wat in 1870 geplant is en die dikste wingerdstok ter wêreld was. Dan is daar ook die Pierneef-museum wat spog met die grootste versameling Pierneef-skilderye ter wêreld.
Kuier by die Grootkerk
Loer in by die dorp se NG-kerk, of die Grootkerk, soos wat inwoners daarna verwys. Hy is net voor die 1900’s gebou en spog met vensters wat versier is met die koning en koningin van Engeland. Die spoggerige kerk het al telkemaal gaste en buitelanders se harte gesteel.
Verken die Camdeboo Nasionale Park
Die park omring Graaff-Reinet en is ’n tuiste vir dierspesies soos die koedoe, eland, gemsbok, sebra en meerkat. Daar is meer as 250 voëlspesies wat jy kan uitken en 330 plantspesies. Jy kan een van die staproetes aanpak of lekker die area met ’n 4×4 verken. Daar is selfs visvang- en watersportfasiliteite wat jy kan geniet teen ’n bekostigbare prys.
Besigtig Die Vallei van Verlatenheid
Hierdie asemrowende natuurverskynsel lê slegs ’n paar kilometer van Graaff-Reinet en moet beslis op jou lysie wees. Dis iets om te aanskou, veral net voor die son sak. Geniet ’n skemerkelkie en kyk uit oor die dorpie en die Nqwebadam. Stap bietjie verder en jy sal sien hoe die vulkane oor miljoene jare gronderosie laat plaasvind het.
Sien die Nqwebadam
So gepraat van die dam; die Nqwebadam, voorheen bekend as die Van Rynevelddam, is in 1924 gebou en strek oor 1000 hektaar. Dit is ’n fantastiese plek om voëlspesies uit te ken, wat flaminke ook insluit. Jy kan saam met die familie lekker piekniek hou en visvang. Daar is talle bekostigbare aktiwiteite wat oud en jonk hier kan besig hou.
Smul aan Karookos
Karookos is ook bekend as kos vir die siel, soos wat jou ouma dit altyd gemaak het. Dink aan disse soos Karoolam, pampoen en soetpatats, beesboud en malvapoeding met tuisgemaakte vla. Daar is min dinge wat by só ’n lekker bord gekookte Karookos kom. En van Graaff-Reinet se juwele is die Pioneer in Parsonagestraat, waar jy bobotie en lamskenkel kan kry wat uit die boeke is.
Bekostigbare Verblyf
Vakansie hou kan ’n duur storie raak, maar nie as jy by KarooRus bly nie. As jy bekostigbare verblyf op Graaff-Reinet soek, is jy op die regte plek. Familie en vriende is altyd welkom by ons, en omdat ons pryse billik is, gaan jy meer geld oorhê om jou vakansie te geniet terwyl jy steeds by ons fantastiese fasiliteite bly.
Geniet al die voordele van luukse verblyf sonder om die begroting uit te put. Skakel ons nou en bespreek bekostigbare verblyf vir jou en die hele gesin se volgende vakansie.